Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Boelies

Lees 1 Samuel 17:1-23.

“Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer!” (v 10).

Dawid en Goliat. Dié storie het ikoniese status verwerf, selfs ver anderkant godsdienskringe. Hierdie naamkombinasie het trouens ook deel van die spreekwoordeskat van feitlik elke taal onder die son geword.

Ja, deur die eeue het dié ongelyke stryd mense se verbeelding aangegryp. Meer: Baie is daardeur bemoedig. Soos die fabel van die haas en die skilpad se resies, het Goliat en Dawid se skermutseling nog altyd daarin geslaag om sukkelaars en tweedekommers te troos. Om dié wat daaraan gewoond is om aan die agterste speen te suig, se hoop te laat opvlam: Miskien kan die onmoontlike tog waar word; dalk is dit vandag mý beurt …

In die eerste deel van die verhaal word die toneel netjies geskets, soos dit ’n gesoute verteller betaam: die karakters word aan die leser/luisteraar voorgestel, die gebeure word aan die gang gesit. Almal wat hier lees, weet dit is ’n ongelyke stryd. Ons weet egter ook hoe dit gaan afloop. Daarom sal dit ons loon om noukeurig te lees. Dit is, byvoorbeeld, uit die staanspoor duidelik dat Goliat konfrontasie wil hê. Tipies bullebak soek hy skoor. Aanhoudend.

Hy slaag in sy perverse doel: Almal is doodbang vir hom. Hierdie boelie wat hulle so staan en koggel, jaag die Israelitiese manskappe behoorlik die skrik op die lyf.

Ons wonder nie waarom hulle so verskrik was nie; ons weet. Ons ken die verlamming wat dreigemente bring. Ons weet hoe doeltreffend intimidasie is. Ons het nog altyd vir bullebakkery teruggedeins. Ons sukkel met boelies. Ons, God se bang kinders, het Hom nog altyd ingeroep om ons gevegte namens ons te veg. Ons kan nie regtig anders nie.

Ek het nie genoeg krag vir hulle wat my verkleineer nie, my Sterkte. Help my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.