Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Prioriteite

Lees 1 Samuel 17:19-32.

Toe sê Dawid: “… Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?” (v 29).

Die intrige verdiep. Ná die veewagtertjie se aankoms in die laer vol verskriktes en moedeloses, loop daar baie gerugte. Daar is byvoorbeeld ’n klomp stories oor ’n enorme beloning wat uitgeloof word aan die man wat die Filistynse bullebak verslaan. Dit alles fassineer die jong Dawid.

Maar sy oudste broer, Eliab, een van die terneergedrukte manskappe, vererg hom vir die klein niksnuts se uitvraery en hy konfronteer hom: “Waarom het jy hierheen gekom …?” (v 28). Het jy kom oorlog-oorlog speel? Dink jy dit is kinderspeletjies dié? En wat het jy met die trop kleinvee gemaak wat aan jou toevertrou is?

Ons weet reeds hoe dié storie gaan eindig. Die hele wêreld ken Dawid se naam. Almal onthou sy prestasies en oorwinnings. G’n mens weet vandag wie Eliab was nie.

Die geskiedenis het ’n manier om met kleinsieliges klaar te speel. Dit moet ons dus nie verbaas dat die geïrriteerde Eliab in vergetelheid verdwyn het nie. Ons weet mos ook dat priester Samuel destyds Eliab se buitengewone lengte opgemerk het en hom opsluit tot Saul se opvolger wou salf (1 Sam 16:7), en dat die Here sy priester daaraan herinner het dat Hy verder as voorkoms kyk. Vandag is Eliab, oudste seun ofte nie, niks meer nie as ’n obskure voetnota in Israel se verhaal.

Maar nee, dit is nie so dat daar net plek vir wenners in God se storie met sy mense is nie. Hierdie episode onderstreep weer eens aan gelowiges die noodsaak om te kan onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:10). Dat God se eer om meer gaan as die omsien na ’n klomp bokke.

Leer my elke dag, Here, wat U wil hê ek heel eerste moet doen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.