Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Helde

Lees 1 Samuel 17:32-51.

Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak (v 50).

Uiteindelik gebeur dit: Dawid aanvaar die Filistyn se tartende uitdaging; hy verwerp sy eie koning se beskermingsmaatreëls. En hy beroep hom op sy geskiedenis met ’n leeu, ’n beer, en met die Here.

Só gaan hy die reusagtige Filistyn tegemoet, kierie en slingervel in die hand, vyf gladde klippies in sy sak. Hy sou uiteindelik net een nodig hê …

Dit is mos waarvan heldeverhale gemaak word: ’n grote teen ’n kleintjie; ’n swaard teen ’n slingervel. En die voorafwete: Hier word die rolle omgekeer; die skynbaar onmoontlike word waar.

Predikers het van altyd af dié Bybelse gegewe gretig aangegryp: Só, sou hulle verklaar, gebeur dit wanneer God aan jou kant is. Met my God spring ek oor ’n muur, loop ek ’n bende storm. God is vir ons; wie kan teen ons wees?

En só word die wen-teen-’n-oormag-teologie bevestig. Nommerpas, dalk, vir ’n beleërde klein volkie? In ’n ander tyd straks geskik vir ’n Geloftedagpreek?

Dit is nie sonder meer verkeerd nie. Bybellesers weet immers dat God se guns nie noodwendig rym met “groot en sterk” nie. Dat kleintjies en mense soos hulle dikwels die uitstalvenster van sy mag is (Matt 19:14). Dat sy krag in menslike swakheid aan ’t werk is (2 Kor 12:9).

Dit is egter so dat die held in die Dawidheldeverhale nie Dawid is nie. Dat kindertjies nie hul gebrek aan spierkrag as ’n prestasie kan aanbied nie en dat Paulus se doring in die vlees eerlikwaar nie iets is om op te roem nie. Kortom: Gelowiges moet nie vergeet dat daar niks heldhaftig in hul geringheid is nie. Die held in hul verhaal is God. Altyd Hy. Nét Hy.

Grote God, aan U die eer!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.