Lees Handelinge 5:27-32.
“Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer!” (v 28).
Die Joodse godsdiensleiers, verlig dat die moeilikheidmaker finaal stilgemaak is, het dit toe verkeerd gehad: Jesus se volgelinge sou sy laaste opdragte na die letter uitvoer. Hulle sou oor Hom praat, waar hulle ook al kom.
Ironies genoeg het hulle hulle dikwels tussen daardie einste godsdienskampioene bevind. Hulle het meestal in die sinagoge en tempel oor Jesus gepraat, tot die leiers se ergernis. Daar is hulle verwyder, dikwels hardhandig. Soms is hulle selfs tronk toe gesleep.
In dié verhaal ontmoet ons Petrus en die ander apostels wat op ’n raaiselagtige manier uit die tronk ontsnap het. Nou is hulle terug in die tempel, besig om te preek en om gretige toehoorders te katkiseer. Uiteraard was die owerstes woedend. Hulle bring die apostels voor die Joodse Raad en niemand minder nie as die hoëpriester skel op hulle: “Het ons julle nie uitdruklik belet …!”
En die groepie skuldiges? Hulle hervat hul lesing waar hulle laas onderbreek is. Hulle gaan doodgewoon voort, nou met ’n openlike beskuldiging daarby, oor hoe die leiers die Verlosser vermoor het. Die Een wat hulle tot bekering kon bring, wat hul sondes kon vergewe.
Hoe sou die godsdiensleiers op dié bevrydingsboodskap reageer? Geen prys vir ’n korrekte antwoord nie, helaas. Ons bly bloot met die ongemaklike gevoel dat dinge intussen nie juis verbeter het nie. Dat godsdienstiges, mense soos ons, nie graag ons gemaksone wil prysgee nie. Ons kies om te glo wat ons wil glo. Anders kom ons veelgeroemde geestelike volwassenheid in die gedrang. En ons ingeligtheid onder verdenking.
Here, u waarheid tref my altyd sleg. Ek is so jammer dat U my só moet sien.
Barend Vos