Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Tweede lees?

Lees Openbaring 2:8-11.

Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê (v 11).

Ons lees maar swaar aan die Openbaringboek, in elke sin van die woord. Dit is moeilike leesstof, ent-ent loodswaar. Én ons blaai dit dikwels verby, Openbaring-tam. Daar is soveel menings hieroor, en dit maak ons moeg.

Met die eerste drie hoofstukke vlot dit op ’n manier. Dit is briewe aan gemeentes en ons leer ken hulle so ’n bietjie. Hier by Smirna hoor ons byvoorbeeld van swaarkry en verdrukking, van armoede en kwaadstokery. Van mense wat nie is wat hulle voorgee om te wees nie. Dit klink nogal nie te anders as die situasie by hedendaagse, plaaslike kerke nie …

Dan verneem ons van die erge beproewings wat klaarblyklik op die Smirna-gemeentelede wag, van verdere swaarkry. Genadig is daar die belofte dat, mits hulle getrou bly, ook dié ellende sal wyk en dat hulle “die lewe as kroon” sal ontvang (v 10). Ook dit klink soos hedendaagse, plaaslike predikers se vermanings en beloftes. Niks nuuts hier nie …

Maar dan sluit hierdie kort brief af met ’n oproep wat woordeliks dieselfde by elk van die sewe briewe in Openbaring 1–3 voorkom: Luister, tog, julle wat ore gekry het – die Gees praat met julle!

Dit is hier waar die onwillige Openbaringleser moet konsentreer. Kyk, jy het tog tot hier gelees … Wat wil Hy nou vir jou sê? Wat wil Hy hê moet jy hoor? Hoekom moes juis jý vandag juis hierdie brief aan die gelowiges in Smirna lees?

Moet jy nie maar weer voor begin lees nie? Stadiger dié keer, versigtig soos ’n mens wat sy skoene vir die heilige grond uitgetrek het? Proe-proe aan die woorde soos aan brood en wyn? Sodat jy die Gees kan hoor?

Spits my ore vir my, Here! Praat hard, asseblief.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.