Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Luister hier!

Lees Lukas 12:4-12.

“Die Heilige Gees sal julle … leer wat gesê moet word” (v 12).

Lukas voeg hier enkele van Jesus se uitsprake saam. Hy vertel wat Godskinders te doen staan wanneer hulle agterkom dat hulle hul lewe met aanhoudende vrees en knaende kommer versuur. Hy vertel wat Jesus sê: Luister hier! Moenie vir moordenaars bang wees nie; hulle kan niks aan jou siel doen nie.

Vrees Hom eerder, die God wat selfs die mossies onthou. Hy wat die hare op jou kop tel.

Kortweg: Hou tog op om jou oor dinge te bekommer waaroor God beheer het. En dit, weet jy mos, is álles in hierdie lewe.

Moet ook nie bang wees om voor ander mense oor Jesus te praat nie; vrees eerder die gevolge as jy dit nié doen nie.

Bowendien, ou kommerkous, moet jou tog nie aanhoudend verwyt as jy dalk nie ’n prater is nie, of as jy bang is jy kry nie iets behoorlik gesê wanneer iemand jou oor die Here voor stok kry nie. Op daardie oomblik sal die Gees jou die regte woorde voorsê. En: Jou mond maak saak. Wat daar uitkom, het gevolge. Weet egter dit: Jy is nie magteloos uitgelewer aan wat uit jou mond kom nie; jy het ’n sê oor wat jy sê. Praat dus versigtig. Luister mooi voordat jy daardie mond so gladweg oopmaak; die Gees fluister soms. En as die Gees wil briek aandraai aan jou haastige woorde, laat

Hy dit doen. Hy weet wat gesê moet word en wat nie. En wanneer, en wanneer nie.

Ek vra tog weer, asseblief, Here, dat U die bekommernisse wat my so verlam, sal doodmaak. Dat U die wag voor my mond sal beskerm. En wakker hou.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.