Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons plek

Lees Psalm 122.

Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon (v 6).

Jerusalem is vir die Joodse pelgrims die simbool van alles wat vir hulle lief en dierbaar is. Hiér sal hulle feesvier en sing, sal hulle terugdink aan die heldeverhale, sal hulle oortuig wees van hul gehoorsaamheid aan hul God se voorskrifte wanneer hulle juis hier kom aanbid.

En wanneer hulle bid, sal daar ook gebede wees vir hierdie einste stad. Vir vrede en rus, en “dat dit met jou goed sal gaan” (v 9).

Hoe inspirerend is dit wanneer mense hartstogtelik lief is vir hul plek! Wanneer hul verbondenheid aan sy geskiedenis en tradisies ooglopend is. Wanneer hulle spontaan by die Here intree vir die welwese van daardie geliefde plek. Wanneer hulle telkens daarheen terugkeer, keer op keer die dikwels gevaarlike, altyd duur reis daarheen aanpak. Sou ’n mens hulle daaroor uitvra, kan ek my hul antwoord indink: “Dit is tog ons plek!”

Ja, ons kan heelwat by die destydse Jerusalemgangers leer. Ons, wat lankal ophou dankie sê het vir die lieflike plekke waar die meetsnoere vir ons geval het. Ons wat, inteendeel, dikwels die plek skel waar ons destyds ons tent opgeslaan het; die noodlot verwens wat ons hier uitgespoel het.

Ons wat drome droom en gesigte sien van ander plekke – daar waar dinge volgens gerugte anders verloop, waar alles glo beter is, waar ons kwansuis gelukkiger sal wees.

Dit mag alles waar wees – maar intussen is ons hiér. En solank ons hier is, is dit ons plek dié. Sal dit ons baat om te bly bid, vir rus en vrede, dat dit met ons goed sal gaan hier in ons plek.

Dit is ons Jerusalem, kruppel en verflenterd en beleër soos hy is.

Dankie, Here, vir ons plek. Hoor ons gebede vir hierdie geliefde tuiste!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.