Lees Jesaja 5:11-17.
Ellende wag vir dié wat vroeg in die môre opstaan om agter sterk drank aan te loop en hulle tot laataand dronk te drink … by hulle fuifpartye (v 11-12).
Die Ou Testament se Prediker is nogal ’n groot voorstander én verkondiger van die evangelie van “eet en drink en vrolik wees” (Pred 3:13; 5:17) – maar hier, in die daaropvolgende geskrif in die Ou Testament, word vertel hoeveel ellende daar op die drinkers en die uitspattige lewensgenieters wag.
Ja, sal iemand sug, die ou mense het mos gesê: Oral waar daar ’n “té” bykom … Ja-nee, sal ’n ander hartlik saamstem, daar is darem perke aan alles!
Soos altyd het sulke briekaandraaiers ’n belangrike deel van die waarheid beet. Hier ook. Maar die breër verband van dié Jesajaverse is tog ook van wesenlike belang. Sien, hierdie gedrink-en-pollevink het nie sommer uit die lug geval nie; die “ellende”-voorspellings kom al ’n hele entjie, en dit sal lank ná hierdie gelese verse voortduur.
Dit blyk dat hierdie dronk partytjievrate net in eiebelang optree. Dat hulle boonop van grootskaalse korrupsie verdink word (v 8). Dat hulle in elk geval van God en sy gebod niks wil weet nie (v 12). En, die ergste, hulle is nie sommer willewragtags nie; hulle is die mense wat deur die Here genoem word “my volk” (v 13). Dit is hulle, sy eie mense, oor wie daar herhaaldelik “ellende wag …” uitgeroep word.
Hulle, van almal. Hulle, wat alle rede het om van beter te weet … En dít is waar die “té” hier bykom: té blasé oor wat die Here vir hulle doen en gee en is. Té argeloos oor hul medemens se welsyn.
Té selfversekerd dat hulle – ongehinderd, ongestraf – so ’n leefstyl kan volhou.
Liewe Here, leer my lewe tot u eer.
Barend Vos