Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Goeie gawes

Lees Lukas 14:12-14.

“Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie” (v 14).

Dit is, oppervlakkig gesien, weer die ou beginsel, al is dit in ’n effens aangepaste gedaante: Moenie dat jou linkerhand weet wat jou regterhand doen nie (Matt 6:3). Oftewel: As jy ander mense help, moet dit nie uitbasuin nie. Of, dan: Moenie iets terugverwag nadat jy iets goeds aan iemand gedoen het nie.

Kortweg: Doen dinge uit liefde, uit ’n gesindheid wat getuig van opregte belangstelling en selfs deernis.

In hierdie Jesusuitspraak kom daar vir die gelowige ook iets anders by: Omring jou doelbewus met diegene met wie jy dit nie normaalweg sal doen nie. Eet saam met hulle. Ja, daardie intieme samesyn om ’n tafel: Deel dit met armes, kreupeles, verlamdes en blindes. En laat dit dan niks minder nie as ’n feesmaal wees. Nie sommer ’n goedbedoelde raap-en-bymekaarskraap van diens-van-barmhartigheid-skenkings nie.

Nou weet Jesus ook dat min, indien enige, van diegene wat Hom verstom staan en aanhoor, sulke mense ken. In elk geval nie genoeg sulkes om ’n tafel vol te maak nie. Waar moet hulle dan vandaan kom?

Nooi hulle! sê Hy. Gaan strate toe, soek hulle op, maak hulle wakker daar waar hulle op die sypaadjie lê en slaap. Help hulle orent wanneer hulle uit gewoonte ’n bedelhand uitsteek. Verras hulle met méér as ’n aalmoes. Maak iets anders as jou kleingeld vir hulle beskikbaar.

En wanneer jy saam met hulle by die feestafel aansit, bid gou, maar stilletjies. Sê dankie dat hulle, hierdie gaste, jou nooit hiervoor sal kan terugbetaal nie. Neem nou hul hande en vra die seën.

Seën, Vader, wat ons eet. Laat ons nimmer U vergeet. Laat ons U onthou as die Gewer van al die goeie gawes wat ons ontvang.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.