Lees Handelinge 9:1-6.
Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (v 4).
Later, in sy briewe, kry Bybellesers ’n idee waarom Saulus so ’n intensiewe haatveldtog teen die Jesusvolgelinge gevoer het. Wat dit was wat hom so ’n mislike mens gemaak het, so ’n gehate, gevreesde figuur. Gaan lees maar, byvoorbeeld, in Galasiërs 1 en Filippense 3. Dit is ook daar waar ons van die keerpunt verneem wat in sy lewe gekom het, die drama waarvan ons die eerste keer in die boek Handelinge lees. Van die doelgerigte reis Damaskus toe, die skielike lig, die stem. Sy, Paulus, se vreemde vraag: “Wie is U, Here?” (v 5).
En die nóg vreemder antwoord wat hy ontvang: “Ek is Jesus.”
Die vraag bevat “Here”; die antwoord “Jesus”. Daar is dus geen twyfel waar die stem vandaan kom nie. Fassinerend, egter, is die stem-uit-die-hemel se verdere verduideliking: “Dit is vir My wat jy vervolg.”
Saulus, onderstebo geslaan, gesig in die sand, moet boonop verneem dat sy ywer nie teen ’n klompie afvalliges is nie, nie teen ’n groep weerlose mense nie, maar teen ’n persoon. ’n Persoon.
En nou weet hy dat hy verloor het. Dat hy nooit ’n kans gehad het nie. Hierdie dag, hierdie vernedering, sal hy nooit vergeet nie.
Ons ook nie. Ons, sy broers en susters wat deur die eeue sy storie lees, sal altyd onthou dat jy nie met Jesus kragte meet nie. Dat wie kans sien om sý volgelinge aan te durf, met Hom te doen sal kry. Dit is immers Hy wat saam met hulle ly. En dit is Hy wat namens hulle rekenskap sal eis.
Saulus kry klaarblyklik ’n tweede kans. Het hy regtig gehoor?
Keer my, Here, dat ek nie met u kinders baklei nie. Ek sal dit nooit oorleef nie.
Barend Vos