Lees Handelinge 9:19b-31.
Almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy ’n volgeling van Jesus is nie (v 26).
Die groepie Jesusvolgelinge in Damaskus het lankal gehoor van die man wat van Jerusalem af gekom het om hulle te kom regsien. Maar toe begin hy preek, hierdie Saulus, en eensklaps verkondig hy die goeie boodskap van Jesus, die Gesalfde van God. Hoe dan nou?
Die Jode, aan die ander kant, was woedend. Hier is iemand, een van hulle, kwansuis deur die Jerusalemse godsdiensleiers na Damaskus gestuur om hulle teen hierdie lastige sekte te help – en hoor nou wat sê die man. Nee, nee! Weg met jou!
Maar die stad se mure het ore, en Saulus se nuwe medegelowiges help hom een nag ontsnap.
Terug Jerusalem toe. Waar hy éérs moeilikheid kry, want die Jesusvolgelinge daar het hom destyds in aksie gesien. Hoe hy soos ’n besetene te kere gegaan het om hulle te vervolg (Hand 8:3; 9:1). Hóm sal hulle nie maklik vergewe nie, wat nog te sê vertrou. Dit kos ene Barnabas om sy eie reputasie op die spel te plaas en vir Saulus in die bres te tree.
Dit is soos dit met nuwelinge is, vreemd genoeg ook in die kerk. En dit vra dapper mense om só ’n nuwe aankomeling “een van ons” te maak. Om op te staan en te sê: Ek aanvaar verantwoordelikheid vir dié een. Dit eis ook van agterdogtige mense om hul gekrenktheid op te skort en te sê: Kom ons gee hierdie mens ’n kans.
Al wat hulle voorlopig met mekaar deel – die nuweling en die nuwe kring – is ’n verhaal van God se bemoeienis met hul lewe. Maar dit is tog genoeg.
Here, ons weet vandag watter kosbaarheid Saulus vir U sou word. Daarom dank ons U vir Barnabas, en vir die krag van vergifnis.
Barend Vos