Lees Handelinge 26:1-18.
“Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig” (v 7).
Hier kry ons Paulus se eie weergawe van wat op daardie veelbewoë dag op die pad na Damaskus gebeur het. In fyner besonderhede beskryf hy aan koning Agrippa sy loopbaan as vervolger van die Jesusvolgelinge.
Opvallend is die verdere inligting wat die Bybellesers kry oor wat op daardie dag gebeur het en gesê is. Hiernaas hoor ons ook Paulus se verdediging van homself, van sy motiewe tydens die aanvanklike vervolging. Uiteindelik verneem ons wat die nuwe passie is wat hom aanvuur: “En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het” (v 6).
Paulus speel nou met oop kaarte: sy lewensgeskiedenis “van jongs af ” (v 4), die radikale ommekeer in sy teologiese beskouings en die aardskuddende gebeurtenis wat dit veroorsaak het. Nou kom die vraag aan Agrippa en die ander wat hom beskuldig: “Waarom is dit vir u en ander onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?” (v 8).
Daar was immers ’n tyd, sê Paulus, dat dit ook vir hom onmoontlik was om enigiets te glo wat in die Naam van Jesus van Nasaret gesê of gedoen is. Hy was volkome oortuig daarvan dat die ou, oorgelewerde opvattings die waarheid is. Maar toe word die waarhede van “die strengste party van ons godsdiens” (v 5) vir hom vervang deur die hoop dat God “sal doen wat Hy belowe het” (v 7). Die vraag is, koning Agrippa, sal u my skuldig bevind aan hoop?
Twee duisend jaar later is dit steeds die vraag: As Jesusvolgelinge van hoop beskuldig word, sal daar genoeg rede wees om hulle daaraan skuldig te bevind?
Ek sê so maklik: U is my hoop! Ag, Here, help my om te glo wat ek sê.
Barend Vos