Lees Lukas 5:1-11.
En toe hulle dit doen, het hulle so ’n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur (v 6).
Jesus kry sy eerste volgelinge nadat Hy ’n wonderwerk by hul werkplek doen. So iets het hulle nog nooit gesien nie – en dit was genoeg vir hulle om hul werk net daar prys te gee en agter Hom aan te gaan. Verby was die vissermanlewe. “Van nou af sal jy mense vang,” sê Jesus vir Petrus (v 10).
Dit was die nuwe dissipels se eerste aanskouingsles van die manier waarop Jesus werk. In sy bedieningstyd op aarde het Hy nie van Bo af na hulle gegryp nie en nie in ’n bulderende stem op hulle geskree nie. Hy het beslis nie ’n towerstaf geswaai om enigiemand te vermaak of te beïndruk nie. Hy het doodgewoon in mense se klein wêreldjie ingekom en wat hulle moedeloos gemaak het, reggemaak.
Dikwels het dit in ’n huis gebeur, soms op straat, ’n keer of wat in die kerk. Oral waar daar mense met vrae was, met kwellings of kwale. Daar, tussen die mense, midde-in hul omstandighede, het sy teenwoordigheid nuwe lig gebring. Genesing. Hoop.
Uiteraard het dit mense geïnspireer, selfs betower. Spoedig het Jesus van Nasaret ’n reusegevolg opgebou. Mense het agter Hom aan gestroom; sy wonderdade was op almal se lippe. Hulle sou gereeld iets sê soos: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien” (Luk 5:26). Tot vandag smag Jesus se bewonderaars na die wonderwerke wat Hy doen. Baie van hulle reis ver en betaal baie om dit te beleef. Dit is jammer dat dit so is. Nuuskierigheid was nog nooit gelyk aan dissipelskap nie. En om Hom te volg, kos aansienlik meer as om uitasem te sê: Ek was ook daar!
Wys my, Here, hoe om U te volg, ook wanneer ek tog so graag ’n wonderwerk wil sien.
Barend Vos