Lees Esegiël 11:1-25.
“Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee” (v 19).
In dié boek lewer die profeet Esegiël hoofstuk na hoofstuk uitvoerig verslag van sy ontmoetings met God en sy Gees. Hoe die Gees hom weggevoer het, waar Hy hom neergesit het, wat Hy alles aan hom gewys het. En – allerbelangrik – wat hy, die profeet, telkens aangesê is om te doen.
Dit is ’n vreemde, vreemde verslag. Bybellesers blaai dikwels vinnig hier deur. Hulle wonder dalk wat dit nou eintlik met hulle te doen het. Wat God en sy Gees se aanwysings vir Esegiël nou eintlik vir húlle wil sê.
Soms beland jy, die verleë leser, wel by ’n gedeelte in die verslag wat jou oor selfs méér laat wonder. Soos in hierdie einste elfde hoofstuk, waar die profeet die opdrag kry om ’n klomp dinge aan sy familie en landgenote te gaan sê. Dinge soos: Ek, die Here, sal hulle weer help. Ek sal hul land vir hulle teruggee. Hulle sal weer my volk wees, en Ek hul God. Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder hulle laat posvat.
Dan is jy saam met die profeet verheug oor die nuwe hoop wat Israel in hul swaarkry-tyd ontvang. En heimlik hoop jy ook – vir jouself, vir jou mense …
Straks wonder jy: Is dit só eenvoudig? Kan ’n moedelose mens se verslae gees sommer weer opgewek word? Kom nuwe lewe op dié manier in ou bene?
Dan besef jy wat jy dalk, soos die ou volk, vergeet het: Dit is God self wat nuwe lewe gee. Dit is Hy wat verflenterde, vergane mense herskep.
Nee, “hoop” is nie ’n akademiese konstruksie of ’n populêre, pienkerige susmiddel nie; dit is ’n Godswoord.
Hierdie ou storie, Here, raak my tóg. U vat ook aan mý hart.
Barend Vos