Lees Esegiël 20:39-44.
“Julle sal ’n weersin in julleself kry oor al die sondige dinge wat julle gedoen het” (v 43).
Steeds Esegiël. Weer is hy die mondstuk van die Here se beloftes. En weer praat die Here mooi met mense wat dit hoegenaamd nie verdien om mee mooi gepraat te word nie.
Dit kom selfs voor of Hy hulle soebat, dié Here wat nie nodig het om dit te doen nie, Hy wat hulle nie nodig het nie. “Ek (sal) bereid wees om hulle offergawes … te ontvang,” sê Hy – en steek sy hand ver uit na hulle toe (v 40).
Hy verwoord die genade waarmee gelowiges van alle tye maar té bekend is, dit waarvan hulle van altyd af lewe. Dán, sê Hy, sal julle besef dat Ek God is, “wanneer Ek met julle handel soos die eer van my Naam dit vereis en nie volgens julle … slegte dade nie …” (v 44). Hoor net daardie ou-ou formule: Nie uit verdienste nie, maar enkel en alleen uit genade …
Tussen al die verbysterende genadebeloftes deur, sê Hy iets waaroor ons gerus twee keer kan dink: Wanneer julle my genadegeskenke ontvang, sê Hy, sal julle skaam kry oor al jul sonde.
Is dit realisties, Here? wil ons graag vra. Met alle respek: Ken U dan iemand, enigeen van u kinders, wat skaam kry oor sonde? Moet hulle nie eers betrap word voordat hulle bloos nie? Wat nog te sê hulleself verwyt?
Ag, Here, wil ons uitroep, ons is dan so grensloos lief vir onsself! So onvermoeid in ons ywer om onsself te dien. So seker van ons regte, so vasbeslote om te doen wat ons wil.
Wié kry dan nog skaam?
Genadige God, ek weet vandag nie waar om my kop in te druk nie.
Barend Vos