Lees Lukas 12:29-32.
“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee” (v 32).
Lukas gee hier ’n korter samevatting as byvoorbeeld Matteus oor wat Jesus alles gesê het oor koninkrykskinders se knaende kommer oor wat hulle sal eet en drink en aantrek. Julle ken mos ’n Vader wat sorg! sê Jesus. Nee, laat die koninkryk in jul lewe kom, en al daardie ander dinge sal Hy julle gee.
Hoe goed ken ons nie hierdie Jesusuitspraak nie – en hoe sukkel ons nie daarmee nie. Ons is maar net mense, sê ons dan, en daarom sal ons altyd bekommerd wees. In elk geval: Waar trek jy die streep tussen besorg wees en voorsorg tref? Die ete-en-drinke gaan mos nie uit die lug in ons skoot val nie? Buitendien: Sorg die Vader dan nie net vir dié wat vir hulleself sorg nie?
Só verhoor ons onsself, só beredeneer en beraadslaag ons, só regverdig ons ons. En so wil ons telkens sterf van bekommernis, want kyk net waar gaan alles heen! Wat gaan wórd? Hoe gaan ek betaal? Waar sal my hulp vandaan kom?
Dan hoor ons hoe Jesus sê die koninkryk is ons Vader se geskenk aan ons – en ons vra, heimlik: Wat daarvan? Watter nut het dit vir my?
So ontmasker ons onsself. Ons is toe nooit bekommerd nie; ons is vraatsig. Nie besorg nie, maar inhalig. Nie ons Vader se wil nie, maar die bevrediging van ons begeertes is ons doel in die lewe.
Kinders van die koninkryk – óns? Ja, wel. Nie so kinderlik nie; tog so kinderagtig. Dit blyk ál duideliker dat sy genade vir baie van ons toe nie genoeg is nie …
Ek weet nie hoe om U in die oë te kyk nie, Here. Nie terwyl ek so kla en kla en kla nie.
Barend Vos