Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Juig, al wat leef!

Lees Psalm 100.

Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange (v 4).

In ’n vroeër tyd was hierdie psalm een van dié wat die meeste in Afrikaanse kerke gesing is. En dalk, wie weet, word die geliefde beryming hiervan steeds wyd gesing, oral waar daar ’n gemeente saamkom en uitroep: “Juig, al wat leef, juig voor die Heer!”

Wysie en woorde werk hier gemaklik saam, en wanneer gelowiges mekaar uit volle bors daaraan kon herinner dat die “bondsvolk” in sy huis moet saamkom omdat die Heer “goedertieren” is, en dat sy goedheid nimmermeer eindig, dan was die wêreld reg.

Dit is vandag steeds so. Daar is min sulke inspirerende tye in die kerk soos wanneer gelowiges saamsing. Buitendien: Mense sing makliker saam oor die Here se goedheid as wat hulle daaroor saampraat. Want ’n lied soos dié vra nie teëpraat nie; in geen loflied is daar plek vir ’n “ja, maar” nie.

Dalk bied dié ou danklied, in enige beryming en met enige wysie, boonop aan gelowiges ’n alternatief vir die ewige gepreek wat kerkmense mekaar aandoen. Iets anders, iets meer as die voltydse vermaning van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie”.

Met dié lied leer ons straks om ’n slag bloot “dankie, Here!” te sê. En dalk sal ons begin verstaan wat die psalmdigter bedoel het toe hy eeue gelede al gesing het: “Dien die Here met blydskap!” (v 2).

Miskien, wie weet, sal die gereelde aanhef van so ’n lied mense soos ons skaam genoeg maak oor die gedurige gefrons, die louter ondankbaarheid, die totale lof-loosheid waarmee ons leef. Ons wat beweer dat ons in ’n goeie God glo.

Here, help my, kerkmens, om saam met al wat leef te juig. Om juigend te leef, juis ook buite die kerk.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.