Lees Johannes 10:31-42.
“Dit is nie oor ’n goeie daad dat ons jou wil stenig nie … maar oor godslastering, omdat jy … jou as God voordoen” (v 33).
Dit was die wet: Godslastering het die doodstraf tot gevolg. En ná Jesus se kruisdood sou die Jode vir mekaar kon sê: Ons het ons god se eer beskerm, ons het vir hom in die bres getree. Hy sal ons beloon. Hy sal goed na ons kyk.
Dit was die wet. Só het dit gewerk.
Sedertdien het dinge verander: Ons ken Jesus nou as God. Ons weet wat die Joodse Godgeleerdes destyds nie geweet het nie en later ook nie wóú weet nie: Jesus het die dood verslaan. Wie anders as God kan dit doen?
Ek wonder soms: Indien hulle later oopkop op alles sou terugkyk, sou hulle nie dalk erken het dat hulle God-by-hulle misgekyk het nie? Dat hulle Hom te ver, te hoog, te diep gesoek het nie?
Ja-nee, die prentjie wat hedendaagse gelowiges van God het, is heel anders as wat daardie arme mense gehad het.
Daarom weet ons dat ons Hom nie meer hoef te verdedig nie. Ons hoef nie meer klippe op te tel om sy saak te bevorder nie. Ons hoef nie briewe in koerante te skrywe, siedende redevoerings te hou, woedende preke en deurnaggebede af te steek ten einde ’n oorlog namens Hom te voer nie.
Sedert ons Jesus as God leer ken het, het ons ook geleer dat Hy regtig niks van ons nodig het nie. Dat om Hom sogenaamd te wil beskerm, ’n onsmaaklike oorskatting van ons eie krag is en ’n vermetele vergryp aan sy Godwees. Ons kan gerus groter beskeidenheid aanleer wanneer ons met Hom te doen het, en veel meer dankbaarheid.
Grote God, aan U die eer! Wie is ek dat U U oor my ontferm?
Barend Vos