Lees Psalm 148.
Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee … ’n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie (v 6).
Hierdie kosmiese pryslied sluit selfs ons, aardse sterflinge, in. Hoor dan: “Prys die Here … jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!” (v 7, 12).
“Ja!” wil ek juig, “hoor ook mý stem, Here!” Tussen die baie stemme deur – dié van al u skepsels, dié van die natuur in al sy vorms en verskynsels soos U dit gemaak het – hoor tog ook my klein kreet: Prys die Here!
Luister tog goed, Here, want ook die hemele roem. En as die son en maan en sterre, al die engele, die hemelwesens én die water in die hoë hemelruim hul prysbeurt kry, sal U straks nie meer my piepstemmetjie in dié hemelse gedruis hoor nie.
Maar ek is ook hier, u klein stofmensie. Steeds hier, ten spyte van alles. U stukkie skepsel met die flentertjie gefluisterde lof.
Ten spyte van my skeptiese aard en my roem op rasionaliteit. Ten spyte van my wenkbroue wat weer lig oor die ou, voorwetenskaplike wêreldbeeld van dié digter. Oor ’n geloof wat steeds werk met primitiewe konsepte soos “vaste plek” en “vir altyd”. ’n Uitgediende kosmologie waaroor my ongelowige vriende giggel en wat my, verleë, met ’n mond vol tande laat.
Vergewe my dus, hemelse Here, my lof wat al hoe flouer raak hoe ouer ek word. Vergewe my die vals note in my pryslied. Die geveinsdheid van my eerbetoning. Wees geduldig met my, u superslim, hiperingeligte kind, doodernstige dissipel van die nuwe tyd. Slagoffer van eie sinisme. Kinderagtige volgeling van ’n God wat destyds te groot was om te begryp of selfs te beskryf. Wat deesdae so maklik deur kenners soos ek geweeg word.
Here, groot bo alles en almal, hoor my lied! Vergewe tog my lomp lof aan U!
Barend Vos