Lees Handelinge 11:1-18.
Die Joodse gelowiges (het) hom verwyt: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet” (v 2-3).
Dit was ’n saak wat die Jode wat nou Jesusnavolgers geword het nié kon kleinkry nie. Sien, hulle het mos die ongehoorde gedoen om Jesus van Nasaret as die Messias te volg. Hiervoor het hulle op vele vlakke ’n duur prys betaal.
En nou kom hul leier, Petrus, hul rots, en sê daar is heidene, afgode-aanbidders, wat ook in Jesus glo, wat nou ook sy navolgers geword het.
“Jesus is óns s’n!” was die kreet. Hy was ’n Jood, soos ons. Hy is besny, soos ons. Nee, Petrus, jy kan mos nie die voorreg om een van ons te wees sommer uitdeel nie!
Petrus moet verduidelik. En hy vertel ’n storie: die verhaal van die gebeure wat tot sy eie verandering in oortuiging gelei het. Dié oor die groot doek uit die hemel met al die diere daarin. Die stem wat hom aangesê het om te slag en te eet. Sy eie verweer: “Nooit nie, Here!” (v 8). Jode raak nie aan iets wat onrein is nie!
Toe sê die stem mos: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (v 9).
Só vertel Petrus en almal is tevrede. As God dan van heidene sy kinders wil maak, dan is dit reg.
Tot vandag is dit so: Die manier waarop God sy kinders kies, is steeds ’n bron van verwarring, selfs ergernis. En die ironie is dat dit juis sy eerste kinders is – hulle wat eerstehands moet weet hoe hoog, hoe diep, hoe wyd sy arms reik – wat hul neus optrek vir sy ander kinders. Onrein! is die klagte …
U het ook vir mý gekies, Here. Selfs vir my …
Barend Vos