Lees Psalm 133.
Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! (v 1).
Dit is nogal moeilik om sommer so op die klank van die teks af vas te stel wie dié psalmdigter in gedagte het wanneer hy van “broers” praat. Is dit bloedbroers, seuns van dieselfde pa? Of bedoel hy geloofgenote, soos in die meer moderne “broers en susters”?
Geleerdes vermoed hy kan selfs na Jakob se seuns verwys, daardie broers wat die stamvaders van Ou Israel geword het. Dat hierdie psalm dan sou wens vir die onderlinge eendragtigheid by Israel se stamme. Dat Juda en Benjamin hulle tog by Ruben en die res sal skaar …
Hoe ook al: Dié psalm is ’n loflied aan eensgesindheid tussen mense wat op die een of ander manier na aan mekaar is, selfs verwant aan mekaar. Die blote feit dat daar so ’n blye bohaai hieroor gemaak word, wys dat so iets nog nooit ’n vanselfsprekendheid was nie. En waarskynlik – sal óns kan byvoeg – ook nooit sal wees nie. Dit is eintlik ironies, nee, tragies, dat mense wat nou aan mekaar verbonde is, wat selfs deur ’n bloedband aan mekaar vas is, beur om van mekaar af weg te kom, baklei om geskei te kom. Of sommer net baklei … omdat hulle kan, en wil.
Besef hulle dan nie, wil jy vra, dat hulle kosbare tyd mors nie? Dat hulle soveel van hul lewensgehalte inboet? Dat spyt gewoonlik te laat opdaag?
Hoor dan tog, wil jy pleit, die psalmdigter se kreet waarmee hy sy pelgrimslied afsluit: Broers wat eensgesind saamwoon, wie se noodwendige verskille nie in allesverkwistende geskille ontaard nie, leef ’n vol, ryk lewe. So ’n lewe is ’n geskenk van hul Vader, omdat sy kinders so mooi na mekaar kyk.
Dankie, Here, vir my familie. Hulle is die aandraers van u genade na my toe.
Barend Vos