Lees Levitikus 19:9-18.
“Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here” (v 14).
In hierdie fassinerende hoofstuk in Levitikus lees ons hoe die dorre begrip “naasteliefde” lyk as dit hande en voete kry.
Elders in dié klompie verse word die naaste ook as armes en vreemdelinge geïdentifiseer, as beliegdes en besteeldes en beskinderdes. As dié wat sonder aansien is, dié wat eenvoudig nooit vergewe word nie. Húlle, sê die Here, is jou naaste. Dit is hulle wat jy so lief moet hê soos jy jouself het (v 18).
Treffend genoeg, word so ’n praktiese vermaning telkens gevolg deur dié formule: “Ek is die Here.” Asof Hy wil sê: Ek sal toesien dat julle dit doen. Of: Julle moet dit doen omdat Ek die Here is, omdat julle dit eintlik vir My doen. Dán rym dit natuurlik met wat Nuwe-Testamentiese gelowiges so goed uit die Jesusuitsprake ken. Byvoorbeeld: “Vir sover julle dit aan een van die geringste(s) … gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt 25:40).
Ja, van begin tot einde is dit die Bybel se goeie nuus. Daarom dat die Here waarsku: Vat aan een van my weerlose kinders en jy vat aan My.
Een ou sakie durf egter nie misgekyk word nie: Hierdie helder “kommentaar” op ou, geykte waarhede word nie sommerso oor dese en gene onder die opskrif “Wie dit aangaan” gestrooi nie. Nee, die Here praat met sy eie mense hieroor. Die godvresendes. Die gelowiges.
Dit is húlle wat hierdie duidelike voorskrifte ontvang. Hulle wat baie goed weet van wie dit kom, en alte goed begryp wat Hy daarmee bedoel, én vir wie Hy skerm.
Ek sien hulle elke dag, Here. U stuur hulle dan na my toe …
Barend Vos