Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

As die Gees jou verhinder

Lees Handelinge 16:1-8.

Hulle het daarna deur … Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het … hulle (het) na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees … het hulle dit nie toegelaat nie (v 6-7).

Twee keer, kort na mekaar. Dit is hoe Paulus en sy reisgeselskap dit beleef het: Twee keer op hul netjies beplande reis “verhinder” die Gees hulle om te gaan waar hulle gereken het om te gaan.

Ons weet nie hoe of hoekom dit gebeur het nie. Probleme by die grens? Berigte dat hulle nie welkom sou wees by hul voorgenome bestemming nie? En het die Gees se boodskap in ’n droom na hulle toe gekom – soos Paulus kort hierna wel sou beleef? (Hand 16:9).

Of het Paulus bloot ’n “gevoel” gekry dat dit nie die aangewese roete was nie. ’n Stemmetjie in sy binneste?

Ons weet nie. Ons weet nie hoe die Gees hier gewerk het nie. Trouens, ons weet eintlik bitter min van die Gees se werking. Soos die wind, Nikodemus! het Jesus destyds gesê. “Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie” (Joh 3:8).

Daar is wel mense, gelowiges, wat veel te vertel het oor hoe die Gees werk – en dan dikwels hoe dit kragtig in hul eie lewe gebeur. Uiteindelik sal net hulle, en die Gees, regtig weet …

Maar alle gelowiges weet: God lei hulle deur sy Gees. Hulle bemerk dit die beste wanneer hulle op hul reis terugkyk en dan dankbaar sien waar die paaie oop was, en skaam wil wegkyk toe hulle weer die afdraaipaaie bekyk. En verwonderd staar na waar die ellendige, hinderlike, onwelkome padblokkades was. Daar waar die Gees hulle, vir hul eie beswil, verhinder het.

Dankie, liewe Here, vir al die kere in my lewe toe U “nee!” gesê het.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.