Lees Spreuke 2:9-15.
As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry (v 9).
Die ou Spreukedigter is vol wysheid, en hy vertel graag aan sy leerlinge hoe noodsaaklik dit is om met oop oë deur die lewe te gaan. Deurentyd kry die hedendaagse leser die indruk dat hierdie raad nie blote slimmigheid is nie, en beslis nie boekgeleerdheid nie. Nee, hierdie wysgeer het sy kennis oor die lewe in die lewe self opgedoen. Hy weet waarvan hy praat. Hy was self daar.
Hoor dan met hoeveel insig (deur eerstehandse kennis gekweek?) hy praat oor die “verkeerde pad”, oor diegene wat “verkeerde dinge verkondig” (v 12): Hulle verheug hulle daarin om slegte dinge te doen. Hulle verlekker hulle in ander se wandade. Die feit dat hul paaie krom is en hul koers verkeerd, is geensins vir hulle ’n probleem nie.
Handboekvoorbeelde, nie waar nie? Die gedragswetenskaplikes sal saamstem. Daardie lekkerkry oor misdade, hul eie én ander mense s’n …
Maar Spreuke is nie ’n handboek vol akademiese insig nie; dit is ’n lewensboek, daarop gerig om gelowiges met hul keuses te help. Om hulle te help om uit foute te leer, hul eie en ander s’n. Die pleitrede is deurgaans iets soos: “Moet tog nie vergeet wat ek jou leer nie, my kind!”
Dit is dan sekerlik die wysste ding wat ons kan doen: om te leer onthou. Om ons te láát leer om te onthou hoe goed die Here vir ons is. Hoe Hy ons van altyd af, juis ook deur ander mense, leer wat die regte koers is. Hoe goed dit vir ons sal wees om daardie roete te volg.
O, dat ons tog nie halfpad op ons lewensreis vergeet waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is nie …
Leer my, Heer, u regte weë – en laat my dit onthou!
Barend Vos