Lees Handelinge 16:9-15.
Op die sabbatdag is ons na die rivier toe … omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees (v 13).
Vir Paulus en sy medesendelinge, so pas twee maal deur die Gees verhinder om hul voorgenome planne uit te voer (Hand 16:6-7), word daar eensklaps ’n nuwe deur oopgemaak. “Kom oor na Masedonië toe en help ons” (v 9), lui die smeekroep.
En daar gaan hulle. Van Troas, oor die see na Samotrake toe. Toe Neapolis, en toe kom hulle in Filippi aan. Daar vertoef hulle eers. Daar ontmoet hulle ook ene Lidia van Tiatira, ’n inwoner en sakevrou van Filippi. Wat ook ’n Jood is.
Paulus-hulle vind dus onmiddellike aanklank by haar en verkondig die evangelie van Jesus die Messias aan haar. En sy glo hulle, sy glo in Hom. So word sy en haar huisgesin gedoop. By hierdie huis vind Paulus en sy geselskap onderdak. Ook maar goed – Filippi sou sy eie uitdagings meebring … (Hand 16:16-40).
Paulus en sy geselskap sou sekerlik kon terugkyk op hul avonture in daardie tyd en hulle oor God en sy voorsienigheid, sy versiendheid, verwonder. Daar was mos die herhaalde verhindering deur die Gees – en toe die nuwe moontlikheid. Daar was hul soeke op die sabbatdag na ’n Joodse bidplek, dalk by die rivier – en daar vind hulle ’n klompie vroue. Een het Lidia geheet, ’n Joodse gelowige – sy sou binnekort ook “ons suster” word, ’n medegelowige, ’n tuiste in ’n taai tyd.
En só word die kerk se geskiedenis geskryf, tussen verhinderings en “toevallige” ontmoetings deur, in die gasvryheid van vreemdelinge en in die gemeenskap van gelowiges. Met altyd, áltyd, die goeie nuus van Jesus Christus in die hart daarvan. Hy, die middelpunt van ons verlange.
Ek herken met verwondering u vingerafdrukke op my lewe. Ek loof U daarvoor!
Barend Vos