Lees Psalm 93.
Vas staan u troon van ouds af: U is van altyd af daar (v 2).
Soms vind jy ’n psalm in die Bybel wat sonder vrae is, sonder wroeging. Sonder klagtes en aanklagte, sonder lesse wat geleer word, sonder onderrig wat aangebied word, sonder groot woorde en sonder trooswoorde. En sonder daardie dringende soeke na God wat soveel van die Bybelse psalms kenmerk.
Psalm 93 is so ’n psalm. Hier word bloot gesê, uit die staanspoor: “Die Here is Koning” (v 1). Tot met die laaste woorde: “tot in lengte van dae” (v 5). Daar is geen kwessie nie; net sekerheid, vastigheid. Só ’n psalm moet liefs nie ontleed word nie en bloot gesing word.
En as dit dalk gebid word, dan hardop en met ’n forse stem.
Hoe spesiaal is sulke liedere, sulke gebede nie! Wat ’n voorreg om aan so iets te kan meedoen, of selfs bloot aan te hoor. Die gelowige se lewe word tog nie net deur vraagtekens en ellipse gepunktueer nie! Dit word goddank nie bloot deur emoji’s met fronse en woede en trane bevolk nie; daar is ook die dae vol uitroeptekens en breë glimlagte, dié boordevol baldadigheid en helderheid.
En, nee, “ja, maar …” is nie ons motto nie en twyfel is niks om jou op te roem nie. Wanneer iemand jou oor God en jou geloof uitvra, is “ek weet nie” soms bloot ’n skuilplek vir lui denke, en “ek sal daaroor dink en jou kom sê” die afskeidsgroet van iemand wat straks nie wíl dink nie en dalk nooit sal kom sê nie.
Soms, nee, dikwels, kan gelowiges gerus maar opstaan en verklaar: “Wis en seker – die Here is Koning, tot in lengte van dae!”
Hier staan ek, Here – U het my staangemaak. Ek kan nie anders nie – U het my tot hier gebring.
Barend Vos