Lees Handelinge 16:16-34.
Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring (v 27).
Oor hul verdere avonture in Filippi sou Paulus-hulle later ’n hele boek kon skryf: die konfrontasie met die vrou wat so geskreeu het; haar ontevrede base wat Paulus en sy makkers voor die stadsbestuur bring. Daarby die vernedering, die slae en die tronkstraf. En dan die wonderbaarlike ontsnapping uit die tronk en die feestelike ete by die pasgedoopte tronkbewaarder en sy gesin.
Dit is genoeg drama vir ’n leeftyd. So gaan dit mos met gelowiges wat erns maak met hul roeping. Daarby is benepe selfbelang dikwels hul teenstanders se enigste motivering. Die skreeuende vrou se base het byvoorbeeld geld uit haar gemaak, en toe draai Paulus-hulle daardie kraantjie toe. Die stadsbestuur wou nie die gepeupel ontstel nie, en toe verneder en verniel hulle die sendelinge en smyt hulle uiteindelik in die tronk.
Maar hierdie teenstanders het nie besef wie die hoofrol in dié drama speel nie. Dat dit nie vir die sendelinge om ’n saak gegaan het nie, maar om ’n Persoon. Dat dit nie ’n natuurverskynsel was wat tot hul ontsnapping gelei het nie. Dat hulle – die teenstanders – nooit ’n kans gehad het nie …
Die tronkbewaarder, tot die dood toe benoud oor sy lot, kom dit wel agter. En hy besef waar sy enigste redding lê.
Tot vandag werk dit so. Die geldmakers en kansvatters en dié wat behep is met ander se mening oor hulle, kyk nie verder as hul eie begeertes nie. Dit is die banges, die desperates, dié wat weet dat hulle gered moet word (v 30), wie se oë noodgedwonge verder soek na waar hul hulp vandaan moet kom.
Dankie, Here, vir wat U my van U laat sien. Dit troos my.
Barend Vos