Lees Handelinge 16:35-40.
“Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee!” (v 37).
Kierankies braai! Oftewel: Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.
Dit kon Paulus-hulle gerus as slotopmerkings opneem in hul boek oor die veelbewoë verblyf in Filippi. Die stadsbestuur, daardie kansvatters, daardie speel-vir-die-skare-spulletjie, het nog gedink hulle gaan suutjies-suutjies van die sendelingeprobleem ontslae raak, toe skop Paulus vas. Nee, sê hy, kom ons doen dinge soos dit hoort: Om mee te begin – ons is Romeinse burgers. Ons is in die openbaar geslaan. Ons is in die tronk gestop. Alles sonder ’n verhoor. Ons eis dat die skuldiges persoonlik kom verantwoording doen.
Hoed in die hand kom vra hulle toe verskoning. Doodbang die Romeinse grootbase vind uit wat hulle gedoen het. Toe vra hulle mooi: Julle het gekry waarvoor julle gevra het – loop nou!
Maar Paulus en sy vriende, die ene selfvertroue, het eers ’n ander draai om te loop: na Lidia die handelaar se huis, daar waar die Filippi-gelowiges byeenkom, en bemoedig hulle. Toe vat hulle die pad. Tevrede. Geregtigheid het geseëvier, al het dit ’n rukkie geduur. Dit is mos die boelies se grootste vrees: dat hulle uiteindelik betrap gaan word. Dat daar met hulle gemaak word wat hulle met
God se gunsgenote maak. Dat die rolle omgekeer word.
Maar Godskinders hoef nooit bang te wees nie, nie vir húlle soort nie. Dalk wel vir hul eie emosies, want die wraak kom hulle nie toe nie.
Here, ek weet dat U in beheer is. Dat dit U is wat uiteindelik rekenskap eis, ook van hulle wat my te na kom. Leer my om te vergewe, om op U te vertrou.
Barend Vos