Lees 2 Kronieke 5:2-14.
Die klank van trompette … en die loflied … het opgeklink (v 13).
Die tempel is klaar, die lank verwagte aanbiddingsplek wat Salomo in al sy rykdom tot eer van die Here gebou het. Dit is net goud en silwer en brons waar jy kyk, meestervakmanne se spoghandewerk (2 Kron 3–4).
Nou vir die belangrikste: die inbring van die verbondsark, die gewyde draagbaar met die twee wetklippe daarop wat Moses destyds van die berg Horeb af gebring het.
Dit was ’n indrukwekkende prosessie: al die lsraelitiese leiers, die stamhoofde, die familiehoofde, die koning. Die Levitiese priesters, sedert Moses se dae die oppassers en versorgers van hierdie heilige stuk kosbaarheid, dra die verbondsark na sy plek. Toe, soos een, sit die sangers en trompetblasers en die res die noot in en die lofprysing begin: Alle eer kom die Here toe! “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie” (v 13).
En toe, só lui die vertelling, het ’n wolk die tempel gevul. Só dig dat die priesters eers moes wag. “Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here …” (v 14).
Daar is mense, hedendaagse lesers van dié vertelling, wat dalk hier sal sug en sê: Ek onthou óns kerk se inwyding, destyds. Al die prag, al die gewyde gebeure, die optog, die besonderse musiek. Ons kon die Here se teenwoordigheid behoorlik aanvoel, daardie dag toe ons kerk ingewy is. Ag, waar is die dae …
Ja, waar is die dae toe ’n kerkinwyding groot nuus was, die trompette geblaas is en die kore gesing het? Die lof so hoorbaar was? En die Here se teenwoordigheid so maklik sigbaar?
Here, ek weet U woon nie in geboue nie, maar dankie vir die aanbiddingsplek waar ek tuis is. Vir die hande wat dit jare gelede ook vir my voorberei het.
Barend Vos