Lees Johannes 14:8-17.
“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees” (v 16).
In dieselfde asem voeg Jesus by: Hierdie Gees sal by julle bly. Hierdie Gees sal in julle wees (v 17).
Groot woorde. Asemrowende beloftes. Dit is Jesus aan die woord ná sy aankondiging aan sy volgelinge dat Hy van hulle af weggaan. En dat hulle net na Hom hoef te kyk, dan sal hulle die Vader sien.
Vir gelowiges is dit geen nuwe inligting nie. Die engel van die Here wat sy koms aan Josef bekendgemaak het, het immers gesê sy naam sal Immanuel wees, wat beteken “God by ons” (Matt 1:23).
Nou sê hierdie Immanuel oor die Heilige Gees: Hy sal vir ewig by julle wees. Méér: Hy sal ín julle wees. Wanneer Kersdag dus Pinkster geword het, word “God by ons” niks minder nie as “God in ons”. Kan dit wees? Kan ons Jesus glo?
Kan ons Hom nié glo nie? Hy, die Immanuel, het dit dan self gesê. Maar dan glo ons Hom op eie risiko. Dit het immers enorme implikasies vir volgelingskap, vir volgelinge se hele lewe. Hulle sal voortaan nooit weer kan sê God is ver nie. Nooit sal hulle voel om te skreeu ten einde sy aandag te trek nie. En, belangrik, nooit sal hulle hulleself en hul brawe wil so gruwelik kan oorskat deur te reken dat hulle Hom toestemming moet gee om in hul lewe te kom nie. Dat hulle Hom hoef “in te nooi” nie. As ons Jesus moet glo, is sy Gees sedert Pinksterdag ’n inwonende getuie van ons doen en late, ons drif en versuim, ons liefhê en ons haat.
Gees van God wat in my woon, kom en heilig my. Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Barend Vos