Lees 1 Korintiërs 2:12-16.
Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel (v 15).
Vir die ná-Pinkstergelowiges is dit besonder kosbare uitsprake dié. Dit gee aan hulle die troos dat hulle kan verstaan wat genade is en wat God alles uit sy genade aan hulle gegee het (v 12). Hulle kan geestelike dinge verstaan soos niemand anders dit verstaan nie (v 13), en hulle het die vermoë gekry om te weet watter dinge wanneer saak maak. Kortom: Mense wat die Gees van Christus het, is bevoorregte, ja, begenadigde mense.
En dit is eintlik al wat gelowiges vir mekaar oor hierdie Paulusuitsprake hoef te sê. Dit is van begin tot einde goeie nuus. Die ene troos. Dit is uiters bemoedigend. Vol blydskap.
Dit hou helaas ook die moontlikheid van volop ellende in. Tragies genoeg juis vir gelowiges. Sien, daar is mos gelowiges – mense soos ons – wat dié troosvolle uitsprake aangryp as sou dit status verleen. Asof dit ’n heilige onaantasbaarheid gee aan ons wat die Gees het. Kyk, hier staan dit mos: “Die mens wat die Gees van God het … kan … deur geen mens beoordeel word nie” (v 15).
Dié Paulustroos word dan doelbewus verstaan dat dit Jesusvolgelinge verdeel: Julle aan my regterkant het die Gees gekry, met al die gepaardgaande voordele; julle aan my linkerkant het egter nog nie die Gees ontvang nie en moet dus eenkant sit. Aan laasgenoemde word dan ’n opdrag soos dié gegee: Streef julle nou ook daarna om die Gees te verwerf! Werk hard aan hierdie tekortkoming in jul geestelike lewe!
Só word dié Paulusuitsprake nou van alle troos en bemoediging en blydskap gestroop. In der waarheid word dit nou dreigemente. En dít is ’n dwaling. Dalk niks minder nie as laster.
Hoor my sing, Here: Alles, alles, is genade, onverdiende guns alleen.
Barend Vos