Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Siener

Lees Numeri 24:1-14.

Hy het na die woestyn toe gedraai en toe … het die Gees van God oor hom gekom (v 1-2).

Die verhale van Balak, die koning van Moab, en Bileam van Petor aan die Eufraat in die land Ammau sorg vir verrassende, boeiende leesstof. Kyk, dit is reeds interessant dat hierdie verhale hul plek in die ou trekvolk se woestynverhaal vind (en dan boonop drie hoofstukke lank – Numeri 22–24), maar ook die inhoud daarvan laat die leser se mond soms oophang. Dit is immers hier waar ons van die pratende donkie lees (Num 22:28-30).

Selfs vreemder is die plek van die woestynvolk se God in hierdie hoofstukke: Daar is sy verskynings aan en gesprekke met Bileam; die rol wat die Engel van die Here hier speel; Bileam se talle uitsprake na aanleiding van wat die Here aan hom sê. Ja, hy, die vreemdeling, vervul ’n profeterol. Hy sê dan: “Ek kan net sê wat God vir my voorsê” (Num 22:38).

Vreemd …

Maar dalk is die heel vreemdste deel van Bileam se verhaal dié oor God se Gees wat oor hom gekom het. Oor hóm, die vreemdeling. Dit is trouens dié Gees wat sy oë open (v 3), wat hom God se woorde laat hoor en hom laat sien wat die Here hom wil laat sien (v 4). Hy wat in gebed neerval en met oop oë dit alles beskryf (v 4-9). ’n Opregte profeet! ’n Siener van God.

Maar steeds ’n vreemdeling, een wie se gasverskyning in die Bybel gou-gou tot die verlede behoort.

Wat ons natuurlik met hierdie lastige vraag laat: Is God se Gees regtig so vryelik “beskikbaar” – vir dese én gene?

Werk Hy regtig soos ’n wind wat waai waar Hy wil? (Joh 3:8).

Ek weet so min van U, Gees van God. Ek weet wel U woon in my. Bly by my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.