Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geestesoë

Lees Efesiërs 1:17-19.

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop … watter rykdom … (v 18).

Mense wat met hul geestesoë kan kyk, is begenadigdes. Hulle kan verder sien as ander, hulle kan hulle beter verbeel, hulle droom groter as ons.

Hulle is ook broser as die meeste. Hul geestesoë word maklik toegeslaan of toegeskel. Hulle word dikwels uitgelag, verneder. Dit wat hulle sien, word bevraagteken en soms selfs verkleineer.

Daarom was dit vir sulke mense sekerlik ’n troos toe Paulus skryf dat hy vir hulle bid. Dat hulle nog beter sal kan sien. Dat hulle die omvang van God se sorg nog makliker sal raaksien, dat hulle die hoop daarin sal herken en hulle aan die rykdom vergaap. En dat hulle hulle sy enorme Goddelike krag kan verbeel.

Ons, die gewone gelowiges wat net so ver soos ons eie bekommernisse en begeertes kan sien, is heelwat aan hierdie mense verskuldig. Dit is hulle wat ons wankelrige geloof voed en wat op allerlei kreatiewe maniere help om kleur in ons kommergevulde lewe te bring. Hulle is God se kosbare geskenke aan ons, niks minder nie as sy profete hier tussen ons. Nie omdat hulle die toekoms kan inkyk nie, maar omdat hulle God in die alledaagse hede raaksien. En Hom dan aan ons, hul stiksienige susters en broers, uitwys.

Daarom moet ons nie ophou om die Here vir hulle te dank nie. Ons moet hulle koester en seker maak dat hulle ’n prominente plek in ons geloofgemeenskap het. Hulle moet hier al die vryheid hê wat hulle nodig het om ons-met-die-dowwe-oë te help. Ons weet tog dat wanneer Paulus na “geestesoë” verwys, hy dit eintlik met ’n hoofletter bedoel: Geestesoë.

U weet mos, Here, hoe ek sukkel om U te sien. Baie dankie vir hulle wat my op allerlei opwindende maniere hiermee help.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.