Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Één

Lees Efesiërs 4:1-6.

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf (v 3).

Daar is net een Here, skryf Paulus. Sorg dus dat julle klomp daar in Efese en die ander gemeentes wat hier lees, tog nie uitmekaar val nie.

Dit is Paulus se boodskap. Hy bied wel ook ’n bietjie praktiese raad, byvoorbeeld hoe gemeentelede teenoor mekaar behoort op te tree: beskeie, vriendelik, geduldig en in liefdevolle verdraagsaamheid. Én deur hulle daadwerklik vir onderlinge eenheid te beywer. Hoe kan hulle dit regkry? Deur in vrede met mekaar saam te leef.

Eenvoudig. Sonder ’n omhaal van woorde. Redenasies hieroor is ook nie nodig nie. Die ganse godsdiens wat hulle beoefen, sê Paulus, is tog eenvoudig: “net één liggaam … net één Gees … net één hoop” (v 4). Daarby net “één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal” (v 5).

Die Efesiërs en die ander gemeentes sou dit vermoedelik goed kon begryp en, indien nodig, regstellende stappe doen. Dit is hoekom Paulus só aan hulle skryf; daar was nog salf aan te smeer.

Nodeloos om te sê: Paulus sal vandag, twee duisend jaar later, oor ander dinge aan hedendaagse gemeentes moet skryf – en aan kerke en denominasies en afgestigtes en nuutgestigtes en beswaardes en groeigroepies en huisgemeentes en so aan en so voorts. Oor eenheid hoef hy nie te skryf nie; nie aan ons nie. Daardie borrel het lankal gebars – in derduisende stukke en brokke en splinters.

Elkeen het mos vir hom en haar en hulle ’n eie liggaam geskep, ’n eie doop, ’n eie geloof. Na alle waarskynlikheid ook ’n eie gees en ’n eie here. ’n Eie god en vader – nét vir hulle. Vir eie gebruik. Hiervoor sal g’n brief help nie.

Here, ons weet alles van liefdelose, triomfantelike verskeurdheid. Help ons!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.