Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Soek en vind

Lees Lukas 2:41-52.

Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ’n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het (v 44).

Elke ouer se nagmerrie, nie waar nie? ’n Kind wat wegraak. Hy was dan nou-nou nog hier! Speel hy nie maar tussen die ander maatjies nie? Wanneer laas het jy hom gesien? Vanoggend laas, toe ons uit Jerusalem weg is?

Waar sal ons begin soek? Dit is al donker … Dan maar terugdraai, al op ons spoor langs. Die hele pad terug Jerusalem toe. Loop deur die strate, kyk om elke hoek en draai, roep, soek. Drie uitmergelende dae lank.

Hulle kry Hom in die tempel waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Hy is twaalf jaar oud. Hy heet Jesus van Nasaret. En hierdie klein maar betekenisvolle insident is al wat ons vandag van sy jeugjare weet.

Die betekenis vir die Evangelieskrywer lê waarskynlik in dié Jesusuitspraak: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (v 49).

Nee, hulle het nie geweet nie. Hulle het trouens glad nie begryp wat Hy aan hulle sê nie, vertel Lukas. Maar sy ma het, soos destyds met sy geboorte toe die skaapwagters so ’n bohaai oor alles kom maak het, al hierdie dinge onthou (v 51; Luk 2:19). Al het sy toe so pas eers ná ’n hele dag besef dat sy hom in Jerusalem vergeet het. Grootmense begryp (en onthou) oor die algemeen maar swaar.

Jesus se ouers was geen uitsondering nie. Dikwels sukkel ons erg om Jesus te onthou. Soms gaan ons selfs op soek na Hom, sonder om te begryp dat sy eerste adres sy Vader se huis s’n is.

Ek verstaan swáár, Here! Beduie asseblief gereeld vir my waar U is.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.