Lees Johannes 16:12-15.
“Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie” (v 13).
Met eerbied gesê: Gelowiges dink soms aan die Heilige Gees as ’n plaasvervanger vir Jesus Christus. Het Hy, die Seun, dan nie gesê die Vader sal ’n ander Voorspraak stuur nie? (Joh 14:16).
Inderdaad. Maar Jesus het ook gesê hierdie Voorspraak sal sy (Jesus se) volgelinge “alles leer” (Joh 14:26).
Alles. Is daar dan nóg iets wat hulle moet weet? Klaarblyklik, ja. Want knap voor sy vertrek terug na sy Vader, verklap Jesus aan sy volgelinge dat Hy “nog baie dinge” het om vir hulle te sê, maar dat hulle dit nie nou sal kan begryp nie. Die Heilige Gees sal dit later aan hulle leer (v 12-13).
Fassinerend, nie waar nie? Ten minste genoeg rede vir Jesus se volgelinge deur die eeue om steeds hul ore gespits te hou vir wat hulle nog by Hom, die Gees van die waarheid, moet uitvind.
Wat was dit dan wat so ingewikkeld was dat Jesus dit vir eers van sy dissipels weerhou het?
Ons weet nie; dit is waarom ook ons wawyd wakker moet bly. Dit kan tog niks anders as die evangelie wees nie. Net meer daarvan. Nóg van die Goeie Nuus, met ander woorde.
Nee, ons weet nie wat nog nie; ons verlustig ons wel by voorbaat daarin. Soos kinders wat grootoog die papier van ’n verrassingspakkie afskeur.
Natuurlik weet ons wel waar dit vandaan kom, dié pakkie wat die Gees bring. Van Jesus, wat dit by sy Vader ontvang het (v 14-15). Dit is dus van begin tot einde ’n Drie-eenheidsaak – Vader, Seun en Gees. Die grote God wat heerlike geheimenisse met sy klein kindertjies deel.
Ek luister, Here! Ek honger en dors na u goeie nuus. Praat met my, leer my!
Barend Vos