Lees Efesiërs 4:7-16.
En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars (v 11).
Daar is heelwat aan ons wat vergewe moet word – en dit het meestal met ons ongebreidelde egoïsme te doen, ons totale ingekeerdheid tot onsself. Daardie heel eerste vraag wat ons soms hardop vra, en meestal ewe vroom nét binnetoe fluister: Wat is hierin vir mý? Hoe kan ék hierby baat?
Om hierdie rede is ons eerste reaksie wanneer ons verneem dat Christus gawes aan die gemeente gegee het, dié van versigtige optimisme. Miskien ontvang ek ook iets …
In dié fragment uit Paulus se Efesiërsbrief trek hy ’n streep deur hierdie ekkerige opportunisme. Wanneer hy oor dié genadegawes praat, deel hy bloot werk uit. Ja, die “gawes” word op die naam genoem, maar hul doel word dadelik uiteengesit: om die gelowiges vir hul dienswerk toe te rus (v 12).
Geen status nie; net opdragte. Geen medaljes nie; bloot ’n voorskoot. Die ampsdraers “kry” nie hierdie gawes nie; hulle “is” dit.
Op watter manier ’n mens ook al hierna kyk, bly dit ’n buitengewone geskenk van God aan ’n gemeente: die toegeruste werkers wat geroep word om ander toe te rus. Dit is hulle wat die gelowiges help om te groei. Wat help keer dat allerlei dwalings vatplek in die gemeente kry. Dit is hulle wat die gelowiges daaraan bly herinner dat Christus die hoof van die liggaam is. Dat dié liggaam se verskillende dele by mekaar pas en dat dié dele mekaar moet opbou.
Sjoe! Wat ’n werk! Hier is nie tyd om te wil naam maak nie. Geen ruimte vir ego’s en eie eer nie. ’n Godsgawe is ’n gebruiksartikel wat voltyds aangewend moet word.
Dankie, Here, vir hulle wat U gegee het om my te help. Hier is ek ook: Gee mý!
Barend Vos