Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Versigtig leef!

Lees Efesiërs 5:15-20.

Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid (v 15-16).

Ons vra mekaar vir die tweede keer hierdie jaar: Hoe kan ’n mens “versigtig” lewe – en terselfdertyd “die beste” gebruik maak van elke geleentheid? Veronderstel eersgenoemde opdrag dan nie ’n veilige roete nie? Om die gebaande weg te volg?

Is dit dan nie hoe gelowige ouers hul kinders behoort groot te maak nie? Is dit nie hoe baie van ons in elk geval grootgemaak is nie? En nou leef ons met die knaende skuldgevoel dat ons iewers tekortgeskiet het omdat ons kinders vryer teuels vir hulleself opgeëis het?

Ag, en kyk nou na Paulus se tirade oor drank … (v 18). Ja-nee, versigtig leef is nie speletjies nie.

Die lewe speel, helaas, ook nie met ons nie. Dit is dikwels ’n meedoënlose reis onder die hete son, vol onverwagte dwarswinde en oor die algemeen ’n uitgelewerdheid aan die elemente. Daarom, lui Paulus se raad, moet ons van elke geleentheid gebruik maak om hierdie reis suksesvol te voltooi. Moet ons deurentyd by die Here verneem of ons nog op koers is (v 17). Moet ons nie so dom wees om te dink dat daar iewers goedkoop, gebottelde oplossings rondlê nie.

Versigtig lewe is om allereers versigtig vir jouself te wees. In jou pasoppens te bly vir ydelheid, vir die oorskatting van jou vermoë om tussen die verskillende weë te kan onderskei.

Versigtig lewe is om alle pretensie oorboord te gooi dat jou gees vol pasklaar antwoorde is. Om jou vervulling met God se Gees dankbaar te omhels en dit elke dag uitbundig te vier.

Here, ek leef in u Naam, onder u vlerk, voor u aangesig. Ek is geseënd!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.