Lees Romeine 2:17-29.
“As gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster” (v 24).
Paulus vaar hier teen die Jode uit oor hul vormgodsdiens. Hy skel nogal kwaai: “Jy, jy sê jy is ’n Jood … jy beroem jou daarop dat God jou God is … Jy is daarvan oortuig dat jy ’n gids vir die blindes is … jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie?” (v 17-21).
Daarby was die destydse Jode se afkoms, hul geskiedenis van godsdienstigheid, vir hulle van wesenlike belang. Dit het vir die Joodse mans álle saak gemaak dat hulle besny is.
Maar reeds hier, vir die Romeine, verklaar Paulus dat die ware besnydenis heel anders lyk: Ware godsdiens, sê hy, wys nie in die werk van mensehande aan jou liggaam nie, maar in die werk van die Gees in jou hart (v 28-29).
Hiermee raak hy erg persoonlik. Vat hy gelowiges van alle tye aan, mense soos ons, mense soos ek. Ons wat sê God is ons God. Ek wat graag wil glo dat ek goeie dinge doen, wat trouens daarvan oortuig is dat ander mense gerus van my kan leer.
Dit is van ons, van my, wat Paulus vra: Jy, jy wat graag ander se dade beoordeel, hoe skoon is jou eie hande? Jy, jy wat jou mond so graag oor ander se leefwyse uitspoel, hoe lyk jou hart?
Dit is uiteindelik ons wat ons moet afvra of ons optrede tot gevolg het dat ander mense God aantreklik vind. En of hulle ons net een kyk gee – en dan oor ons God sê: Nee, wat!
Wanneer ek my in u Woord spieël, Here, weet ek dat niemand my as u kind sal aansien nie. Leer my tog, elke dag, u maniere.
Barend Vos