Lees Jesaja 57:1-13.
As jy om hulp roep, moet jou spul gode jou kom red (v 13).
Daar word hoë eise aan God se dienaars gestel – deur God self. Só sê Jesaja. Ontrou aan Hom neem vele gestaltes aan – en die prys daarvoor is hoog. Sê Jesaja.
Dit is inderdaad ’n besonder harde oordeel wat in hierdie gedeelte gevel word. Die profeet stel die Here aan die woord, en Hy spuug sy oordeel uit in woorde wat ons, Bybellesers wat ons graag sy kinders noem, se ore laat tuit. Hoor dan: “Maar kom julle nader hierheen, kinders van ’n towerheks, julle wat gebore is uit owerspel en hoerery!” (v 3). En later: “In jou ontrou aan My het jy jou kaal uitgetrek, op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak” (v 8).
Die tale, darem …
Maar dalk is dit al wat sal help: om ’n taal te praat wat hulle, hierdie ontroue Godskinders, sal begryp. Om beeldspraak te gebruik wat hulle nie kan misverstaan nie. Hulle moet net nooit kan sê hulle het nie geweet nie, hulle is nie gewaarsku nie. Daar is nie aan hulle gesê hulle sal die gevolge van hul dade moet dra nie – “… en jou gode sal jou nie kan help nie” (v 12).
Waarskynlik is dit die ergste ballingskap, vind hierdie ou volk uit: om jou eie begeertes se gevangene te wees. Want begeertes is harde meesters wat sonder barmhartigheid hul pond vleis eis. Wat hulle nie sommer laat vind nie, en jou op vele vrugtelose soektogte stuur. Wat grynslag omdat hulle weet hoe jy sal sukkel. Wat uiteindelik niks werd is nie en jou nie gaan help as jy, onvermydelik, tot ’n val kom nie.
Kom tot besinning! roep die Here. Kom skuil by My!
Ek is u eiendom, Here! Ek hoort nie tussen húlle nie – verlos my!
Barend Vos