Lees Jesaja 65:1-9.
Ek het gedurig my hande uitgesteek na ’n opstandige volk … (v 2).
Hy maak dit maklik om Hom te sien, Hom te hoor, Hom te beleef. Hy staan op, hierdie Here, Hy wuif met die hand en sê: “Hier is Ek! Hier is Ek!” (v 1).
En dit vir mense wat Hom nie wil sien of hoor of beleef nie. Hulle het nie na Hom gevra nie, hulle het Hom nie gesoek nie. Wat hulle doen, is om Hom voortdurend te beledig. Hulle doen die gruwelikste sondes.
Dit kan nie so aangaan nie. Tot hiertoe, en nie verder nie. “Ek gaan ingryp. Ek gaan hulle straf … sê die Here” (v 6-7).
Só verneem ons in dié gedeelte – en ons kan nie help om ons kop te skud nie. Soveel stiksienigheid darem! Sulke kru ongehoorsaamheid …
Wie kan die Here dit kwalik neem dat sy geduld ’n keerpunt bereik het? Wie, anders as Hy, sou dit so lank met sulke mense uitgehou het? Daar kom ’n tyd, en dit is nou, dat Hy sy hande was en die stof van sy voete afskud. Dat Hy mense prysgee wat Hy, agterna beskou, lankal vaarwel moes toegeroep het. Al is Hy God. Al heet Hy hul Here.
Maar omdat Hy Hý is, soek Hy ’n uitkomkans uit sy eie teleurstelling. Wil Hy hulle nogeens ’n ontsnaproete gee, weg van sy woede af. Troos Hy hulle – verbeel jou: tróós! Húlle! – met die beeld van ’n druiwetros wat nog sap in hom oor het, nog nut. En sê Hy Hy beplan ’n nageslag vir hulle, sy onwillige dienaars. ’n Toekoms vir mense wat feitlik alles weggesmyt het wat hulle by Hom gekry het.
Tot hiertoe, sê die Here. Én verder. Ek en julle.
Here, Here, hoeveel “tweede kanse” het U my nie reeds gegee nie …
Barend Vos