Lees Efesiërs 2:11-22.
Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het (v 14).
Paulus het nou maar eenmaal sy mes in vir die godsdienstige Jode, daardie spulletjie hiperkorrektes en superregverdiges wat hulleself as beoordelaars van almal en alles aangestel het. Hy noem hulle “dié wat hulleself ‘die besnedenes’ noem, al is die besnydenis,” voeg hy dadelik by, “net mensewerk aan die liggaam” (v 11).
Maar julle, troos hy die Efesiërs, ja, julle wat vroeër heidene was, is God se handewerk. Julle is nou lede van God se huisgesin. Julle is trouens ’n gebou waarvan Jesus self die hoeksteen is, ’n geestelike huis waarin God woon.
Só trek Paulus ’n dik streep deur die Jode se denke. Die eksklusiwiteit, die uitsluiting van almal wat anders as hulle is. En daarmee saam die opeis van God vir hul saak, nét hulle s’n.
Daar bestaan nie meer so iets nie! roep Paulus uit. Daardie skeiding is verwyder, die muur is afgebreek. En dit het nie sommer maar “gebeur” nie; Jesus het met sy lewe daarvoor betaal. Die goeie nuus is dat daar vrede gekom het tussen dié wat eens ver van God was en dié wat destyds naby was (v 17). Daar is dus nou niemand meer wat ver is nie.
Hoe glashelder verduidelik Paulus dit nie. Hoe maklik verstaanbaar, selfs vir ons, is dié boodskap nou: Geloofseenheid is nie ’n teologiese konstruksie nie, maar ’n Godgegewe werklikheid. Dit is ’n vryheid waaraan “ons almal” (v 18) deel het, ’n duur huis waarin ons almal woon.
Ja, sedert Jesus en die prys wat Hy daarvoor betaal het, is eksklusiwiteit die goedkoopste redenasie moontlik, en uitsluiting sonder meer ’n bankrot argument.
U het my hier laat tuiskom, Here. Hier in u huis met die baie blyplek.
Barend Vos