Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

“Ons God”

Lees Esegiël 32:1-16.

So sê die Here my God: “Die koning van Babel se swaard … sal die trots van Egipte vernietig …” (v 11-12).

Vreemd. Hoekom nou juis die farao, die Egiptiese koning? Wat het hy en die koning van Babel met die Israelitiese profeet te doen? Moet die profeet hom nie liefs met sy eie mense se sake bemoei nie? Klaarblyklik nie. En hy, die profeet, verskaf die rede vir sy uitgesprokenheid sommer reg aan die begin wanneer hy sê “die woord van die Here” (v 1) het tot hom gekom. Dat hy met ander woorde die opdrag van Bo gekry het om ’n treurlied oor die farao aan te hef. Wat moet hy sê? Kortliks dit: Dit is die einde van jou regime, Egiptenaar! Dit is klaarpraat met jou; jou land sal verlate wees.

Dit is dus so: Die God van Israel is geen plaaslike godjie nie. Hy is nie beperk tot diegene wat daarvan oortuig is dat Hy Hom net by hulle skaar nie. Hy is die God wat hemel en aarde gemaak het, lui die oerbelydenis.

En ons weet tog van jongs af: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan …” (Ps 24:1, 1933/1953-vertaling) – én die farao’s én die konings én die presidente en al die ander sogenaamde base. Hier is dus nog ’n les: As jy van “ons God” wil praat, moet jy weet dat daar meer onse in daardie pond is as wat jy ooit kan bereken. En as jy, Nuwe-Testamentiese gelowige, graag verwys na Romeine 8:31 (“God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?”), dan kan jy baie dankbaar wees dat ook jy en jou mense op daardie partydigheid mag staatmaak.

Hoe groot is U, Here! Dat U ons in ons geringheid raaksien, gaan my verstand te bowe. En dit maak my só bly.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.