Lees Galasiërs 4:8-20.
Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie (v 17).
Paulus wil by die Galasiërs weet: Julle het tog afskeid geneem van jul nuttelose afgode en hul lawwe voorskrifte – “… hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls?” (v 9).
Het ek tevergeefs aan julle gearbei? vra hy hartseer. “Het ek dan nou julle vyand geword …?” (v 16).
Hy smeek hulle om tot die beproefde leer terug te keer, en sê: “Ek is werklik besorg oor julle” (v 20).
Dan, iewers tussen al die trane deur, bemerk die latere lesers die eintlike slang in die gras: mense-met-’n-agenda. “Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer” (v 17). Pasop vir hulle! Hulle bedoel dit nie goed met julle nie. Julle is bloot die middel tot hul doel.
Nou ja, daar is ook niks nuuts onder die son nie. Hulle – daardie aasvoëls wat op weerloses teer – sal klaarblyklik altyd tussen ons wees. Hulle bly op die loer na ’n nuwe prooi. Hulle soek sonder ophou na slagoffers. Dit is deel van hul – soos hulle dit graag verkondig – “goddelike” opdrag om aanhangers te werf. Of dan, soos Paulus dit stel, om die Jesusvolgelinge opnuut te verslaaf (v 9).
Gelowiges moet weet dat hulle meer dikwels ’n teiken is as wat hulle mag dink. Nie van vreemde boosdoeners nie, nee; werklike boosheid lê meestal veel nader aan eie boesem. Boosheid is ook nie altyd maklik identifiseerbaar nie. Paulus self het immers gesê die Satan doen hom voor as ’n engel van die lig (2 Kor 11:14). Suksesvol so, het vele gelowiges al tot hul ewige ellende uitgevind.
Leer my, Here, om te kan onderskei. Nie omdat ek beter as ander is nie, maar omdat ek bang is, en omdat ek myself ken.
Barend Vos