Boodskap vir Vandag

Search

Geloofsbelydenis

Lees Psalm 16.

Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U” (v 2).

Die Bybelse psalms is feitlik almal liedere of gebede, dit wil sê lofwoorde wat aan die Here gebring word, vrae en versoeke wat aan Hom gerig is, pleitredes wat vir sy ore bedoel is.

Psalm 16 is egter ’n geloofsbelydenis.

Geen afgod is so ’n eerbetuiging werd nie, sê dié digter. Dit is die Here, die enigste God, wat hom sy tuiste gegee het. Die Here het dit self uitgemeet; hy wat hier sing, het dit bloot geërf – en ís dit mooi!

O, en ek is altyd van Hom bewus! verklaar hy. Ek weet Hy is altyd by my, dag en nag. Daarom loop ek sonder aarseling of weifeling. Daarom leef ek veilig, duskant én anderkant die graf. Hy leer my hoe om te lewe én hoe om te sterwe. Ek leef uit sy hand, ek sterf in sy hand. Ek behoort aan Hom.

Ons mag maar weet: Geen geloofsbelydenis bevat die woorde van ’n geloofskampioen nie. Dit verduidelik nie hoe groot of hoe kragtig of hoe suiwer die opsteller daarvan se geloof is nie. Daar is bloot dié erkenning: Ek kan nie sonder U nie. Dié sug: Moet my asseblief nooit aan myself oorlaat nie. Dié jubeling, soos van ’n klein kindjie: My God is so groot, so sterk en so magtig, daar is niks wat my God nie kan doen nie.

Dan is daar, herhaaldelik, dié woorde: “mooi”, “pragtig”, “bly”.

En “juig” en “veilig”. En uiteindelik: “oorvloedige blydskap”.

Nee, ’n geloofsbelydenis handel nie eintlik oor geloof nie; dit sê bloot, soos ook Tomas eeue later: “My Here en my God!” (Joh 20:28).

Grote God, aan U die eer – ook vir die geloof wat U my gee.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.