Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dissipels

Lees Lukas 9:51-62.

“Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys (v 54-55).

Volgelingskap. Weer. Gelowiges kan seker nooit genoeg hieroor leer nie; hul tweede naam is immers “dissipel”, oftewel “leerling”.

Wat hulle hier moet leer, lê voor die hand: Waarheen sal jy My volg? Watter prys sal jy bereid wees om te betaal, watter opofferings sal jy maak? Sal jy tevrede wees met die ploeg se harde handvatsel? Maar allereers moes hulle leer, hierdie eerste dissipels, dat hulle nie sommer kan oordeel nie. Dit is nie deel van hul roeping nie. Die enigste reg om te oordeel is die Here s’n. Jakobus en Johannes – hoeka deur Jesus “manne van die donder” (Mark 3:17) genoem – se kragdadige vrymoedigheid om hulle en hul Here te wreek, was dus heeltemal onvanpas. En Jesus se teregwysing is ’n ewige les vir dissipels van alle tye.

Ja, as jy Hom wil volg, moet jy sy stem ken. Jy moet hoor wanneer Hy sê: “Volg My!” (v 59). En jy moet luister wanneer Hy sê: “Nee!”

Want dissipelskap geskied op Jesus se voorwaardes. Dissipels volg tog nie ’n stel beginsels of ’n mooi idee nie; ons loop agter ’n Persoon aan. Daarom het ons nie kwalifikasies nodig nie; bloot gewilligheid. Hy vra nie hoe slim of hoe sterk ons is nie; ons moet bloot weet dat die pad agter Hom aan dikwels moeilik gaan wees. Dat om ’n Jesusvolgeling te wees hoë eise aan ons gaan stel.

Ons moet terdeë besef dat ons altyd, áltyd, van Hom afhanklik gaan wees. Dat “geestelike volwassenheid”, soos ons dit alte graag misverstaan, ’n inherente teenstrydigheid is. Dat dissipels se gunstelinglied só lui: “Jesus, U gaan voor. Ons volg in u spoor …”

Ek is altyd u kindjie klein. En ek wil soms bly staan as U voorwaarts gaan.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.