Lees Genesis 24:34-41, 50-67.
Isak het … met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad (v 67).
En hulle het lank en gelukkig saam geleef. Só vertel die Genesisverhaal ons. En ons sou niks minder van een van die ou aartsvaders verwag nie.
Maar dit was in hoe hulle by mekaar beland het dat die vreemdheid lê. Ja, wel, erg vreemd vir ons, 21ste-eeuse mense; in daardie tyd was dit klaarblyklik die gewone gang van sake.
Om ’n lang, mooi storie baie kort te vertel: Abraham beveel sy slaaf om ’n vrou vir sy seun Isak te gaan soek. Maar dan in die land waar hy, Abraham, vandaan kom. En “… jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe …” (v 38).
Die slaaf, wat in dié verhaal ’n hoofrol speel maar nêrens ’n naam kry nie, ontmoet die jong Rebekka by ’n fontein. Hulle pluis familie uit en die slaaf weet sommer: Hier is hy op die regte plek. Hy ontmoet ook Rebekka se broer Laban en dié luister na sy verhaal.
Die uiteinde? Rebekka en haar slavinne is met ’n hele kameeltrek na die Suidland toe, na Isak toe. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
’n Fassinerende geskiedenis waaruit ons, moderne gelowiges, heelwat kan leer. Onder meer dat naamloses nog altyd hoofrolle in God se verhaal met sy kinders gespeel het. Van sulke Godskinders-sonder-naam is die Bybel mos vol.
Ons leer dat God se voorsienigheid wat huweliksmaats betref straks anders lyk as wat ons sou dink. Dit is vandag nog so, sal dankbare mense met blink oë jou kan vertel. En ons leer dat ons versigtiger moet praat wanneer ons sommerso na ’n “Bybelse huwelik” verwys.
Dankie, liewe Here, vir u ingrypende liefde en tere sorg in my lewe.
Barend Vos