Lees Jeremia 23:16-22.
Ek het nie hierdie profete gestuur nie, tog het hulle met ’n boodskap rondgehardloop; Ek het nie met hulle gepraat nie, tog het hulle as profete opgetree (v 21).
Profete, so blyk dit van altyd af, is nie almal die naam werd nie. Dié eretitel is mos ook ’n werkomskrywing: Dit veronderstel ’n vermoë om goed te kan sien, noukeurig te kan onderskei, getrou te kan verkondig. En in alles gehoorsaam te wees aan die Een in wie se diens hulle staan.
In Jeremia se tyd was daar heelparty sogenaamde profete wat niks van bogenoemde verstaan het nie. Hulle het verkondig wat húlle wou. Hulle het gesê wat die mense wou hê hulle moet sê. Hulle het hul gewilde boodskap geskoei op hul hoorders se instemming. En watter prediker word nie meegevoer deur koppe wat instemmend knik nie? ’n Entoesiastiese geroep van “ja!” en “amen!” op alles wat hulle kwytraak nie?
Wie by sy of haar volle verstand sal nie na nóg hiervan op soek gaan nie? Nóg bewondering, nóg meelewing, nóg beloning van die een of ander aard?
Want dit bly ’n feit dat profeetwees nie ’n maklike opdrag is nie. Niemand klap eintlik hande vir ’n profeet nie – tensy die boodskap in die hoorders se kraam val. Daar is weinig wat hulle eer, juis nie dié wat reken dat hulle die profeet ken nie (Matt 13:57).
Die profete se enigste werklike bevrediging én beloning, het ons mos al vasgestel, is dat hulle hul Opdraggewer na die mond praat. Dat hulle sonder teëpraat inval by sy wil.
Maar hulle is klaarblyklik dun gesaai, enkelinge uit ’n klas vol kansvatters. Laasgenoemdes sal egter altyd by Hom wat saak maak die etiket “sogenaamd” dra, hul gewildheid en welvaart ten spyt.
As U my ooit met u boodskap vertrou, Here, maak my dan daaraan getrou.
Barend Vos