Lees 2 Korintiërs 8:1-7.
… eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons (v 5).
’n Mens kon verwag dat die gemeentes in Masedonië sou sukkel om die mas op te kom: Hulle het verdrukking geken – die streek was immers onder Romeinse beheer – én, berig Paulus, hulle was baie arm. Alle rede om te sukkel, om met bak hande by die ryker gemeentes te kom staan.
Toe nié. Inteendeel. Dit is juis húlle wat aan ander gemeentes gee, oorvloedig bydra, en boonop daarop aandring om dit te doen. Dit is ’n verbysterende verhaal wat Paulus hier vertel, oor hoe gelowiges die bietjie wat hulle het met ander deel – “bo vermoë” (v 3), beskryf hy dit.
Eintlik is hierdie storie ook bo óns vuurmaakplek. Hoe verstaan ’n mens byvoorbeeld die veel ouer gemeentes in Judea se behoeftigheid? (v 4). Wat het dan daar verkeerd geloop, só erg dat die armes en verdruktes in Masedonië moes inspring om te help? En wanneer Paulus hier aan die gemeente in Korinte skryf en hulle soebat om die Masedoniërs se voorbeeld te volg, kan ’n mens ook maar net wonder of hulle hom sou hoor.
Want dit bly ’n raaisel: Hoekom sorg alle gelowiges nie, sonder om twee keer daaroor te dink, vir hul susters en broers nie? Hoekom moet hulle aangepraat word, en hoekom moet brandarmes vir hulle as voorbeeld voorgehou word?
Of is daardie ou skinderstorie dalk ook hiér waar: Diegene wat ryk is, is nie om dowe neute só nie – hulle blink nie uit in géé nie …? Hoe ook al: Die ware rykdom in die Masedoniese gemeentes blyk uit Paulus se opmerking dat hulle allereers hulleself aan die Here gegee het. Die Here vra immers nie ons bydraes nie; Hy vra onsself.
Alles wat ek het, kom van U af. Ook my vermoë om ander se nood raak te sien.
Barend Vos