Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Opdrag

Lees Lukas 9:1-6.

Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak (v 2).

Bybellesers vergeet soms dat Jesus se navolgers, en dan juis die twaalf bekendstes, nie deurentyd by Hom was nie. Hy het hulle vroeg-vroeg reeds uitgestuur om koninkrykswerk te gaan doen. En dan letterlik dít – “om die koninkryk van God te verkondig” (v 2). Dat Hy ook aan hulle die vermoë gegee het om genesing in sy wydste omvang te bring (v 1), was ’n bykomende vaardigheid, én ’n opdrag.

Is dit vandag anders? Is baie gelowiges se uitgesproke begeerte om “net aan Jesus se voete te sit” ’n volhoubare wens? Klaarblyklik nie. Jesus se navolgers moet hulle gereed hou om gestuur te word.

En dan nie noodwendig na waarheen hulle gestuur wíl word nie. Trouens, Jesus het destyds reeds gewaarsku dat hulle nie oral welkom sal wees nie (v 5); dat daar mense is wat hulle nie sal wil ontvang nie. Hulle moet hulle egter nie hieroor moeg maak nie; dié weiering sal ’n aanklag teen diegene met die geslote deure wees. Mag sulke botheid egter die uitsondering wees! Mag die opdrag om die koninkryk te verkondig en om genesing te bring, die gestuurdes se volle aandag kry. Mag die wete dat hulle met die kosbaarste van alle boodskappe vertrou word, hulle inspireer om deurentyd hul bes te doen.

Ja, en mag jy, navolger van Jesus en gestuurde van God, nooit vergeet wat die boodskap is en hoe dit klink nie. Bly ’n student van Jesus se koninkrykstories, en wees daarop voorbereid om telkens verras te word deur hierdie verhaaltjies wat die Evangelieskrywers “gelykenisse” genoem het. Dáár verneem jy hoe sake in die koninkryk werk, en hoor jy die Koning se hart klop.

Ek is u koninkrykskind, ek is tuis by U. Leer my altyd hoe om hieroor te praat.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.